Canberra. – ’n Liefdesverhaal tussen twee erg verbrande koalas wat uit Australië se dodelikste veldbrande gered is, het opbeurende verligting gebring ná dae van verwoesting en die verlies van meer as 180 lewens. Die verhaal van Sam en haar nuwe kêrel, Bob, het aan die lig gekom nadat die vrywilliger-brandbestryder mnr. David Tree ’n selfoon gebruik het om die redding van die verwarde vroulike koala af te neem. Sam is gevind waar sy in ’n uitgebrande woud by Mirboo-Noord, 150 km suidoos van Melbourne, gesit en bewe het. Foto’s en ’n video van Tree (44) wat na die koala beweeg en saggies met haar praat, en haar water uit ’n plastiekbottel gee terwyl sy haar gebrande poot in sy koue, nat hande plaas, het op die videowebwerf YouTube verskyn en van haar ’n internet-sensasie gemaak. Nadat sy ’n wildskuiling bereik het, het sy Bob bevriend. Hy is verlede Vrydag, twee dae voor Sam, in Boolarra, sowat 180 km van Melbourne, gevind. Tree, wat al 26 jaar lank ’n vrywilliger-brandbestryder is, het gesê om so naby aan ’n koala te kom, is seldsaam.
|
|